Wildboere sleutelspelers in vlakvark beheerstrategie
- adriaansnyma2
- Apr 1, 2014
- 3 min read
Deur Monlee Swanepoel
Die vlakvark (Phacochoerus africanus) kom vandag wydverspreid op plase en reservate in Suid-Afrika voor: vanaf Griekwastad in die weste tot Colesberg in die suide en Bethlehem in die ooste. Wat baie mense egter nie besef nie is dat hierdie dele nooit deel gevorm het van die vlakvark se natuurlike verspreidings gebied nie, maar dat hulle ingebring is deur wildboere op wildplase en sekere provinsiale reservate sedert die jare 80’s. Alhoewel natuurbewaring destyds gedink het dit is die hervestiging van ‘n vlakvarkspesie wat plaaslik uitgesterf het, was dit eintlik ‘n heeltemal ander vlakvark spesie nl. die Kaapse vlakvark (P. aethiopicus), wat in geografiese geïsoleerde gebiede van Suid-Afrika voorgekom het, maar in die 1880’s uitgesterf het. Die vlakvark waarmee die meeste mense vandag bekend is, is die gewone vlakvark (P. africanus), wat se natuurlike verspreidingsgebied die Limpopo, Mpumalanga, gedeeltes van KwaZulu-Natal, Gauteng en Noord-Wes provinsies insluit.
Wildboere het die spesie op hul plase ingebring omdat dit gewild is onder plaaslike en internasionale toeriste en jagters en so vir hulle finansiele voordele inhou. Veral oorsese jagters maak graag jag op vlakvarke enbetaal enige iets tussen R800 en R3 500 per dier, wat ander onkostes soos verblyf, vervoer ens uitsluit. Alhoewel die voorkoms van die spesie deur die meeste wildboere verwelkom word, is die vlakvark beslis nie gewild onder veeboere en gewasboere nie, aangesien hulle finansiele skade kan berokken. Omdat hulle in staat is om grensdrade te breek en gate onderdeur heinings te grawe, kan hulle nie doeltreffend binne gehou word nie, en het sommmiges ontsnap en na naburige plase versprei. Hulle grawe ook gate waardeur roofdiere toegang het tot veekuddes of skaars wild, of dit moontlik maak vir kruipwild om te ontsnap. Hulle kan ook verantwoordelik wees vir grootskaalse skade aan landerye en aangeplante weiding, asook die infrastruktuur.
Die afwesigheid van roofdiere soos leeus en luiperds in hul natuurlike habitat, gepaard met ‘n hoë aantelingstempo en die natuurlike aanpasbaarheid van die vlakvark, het gesorg dat die ingevoerde populasies vinnig vermeerder het en tans in groot areas van die land voorkom. Die Universiteit Stellenbosch het die navorsing rakende die voorkoms, verspreiding en huidige bestuur en benutting van die vlakvark in die Noord-Kaap en Vrystaat provinsies, Suid-Afrika, van stapel gestuur om te probeer bepaal watter impak die spesie moontlik kan hê op die natuurlike en landbou-omgewing, en hoe dit vanuit ‘n bewaringsbestuursoogpunt benader moet word. Die studie stel voor dat die spesie formeel deur wildboere en jagters bestuur en benut moet word, om sodoende populasiegetalle in toom te hou en die skade wat hul aanrig, te verminder. Formele bestuur sluit die betaalde jag van vlakvarke in, asook die benutting van die vleis vir die kommersiële wildsvleismark in Suid-Afrika. Voorlopige resultate het aangedui dat vlakvarkvleis ‘n alternatiewe rooivleis kan wees, wat algeheel hoog in proteien en laag in vet is. Die vleis het ‘n unieke geur en tekstuur en kan in verskeie verwerkte vleisprodukte gebruik word, wat interessante moontlikhede soos biltong, sosaties, kaasworsies en salami's insluit.
Wildboere is sleutelspelers in die ontwikkeling en implimentering van so ‘n beheerstrategie vir vlakvarke, en word ernstig versoek om hul te vergewis van die getalle/voorkoms van die spesies op hul plase asook op hul buurplase, ten einde 'n netwerk te kan vestig waar wildboere en -jagters saamwerk met vee-en-gewasboere om vlakvarkpopulasies te beheer. Al word die negatiewe impak van vlakvarke op die stadium slegs deur hoofsaaklik vee-en-gewasboere ervaar, is daar nog geen inligting beskikbaar oor watter impak die spesie moontlik oral op die natuurlike omgewing (veld en diere) kan hê nie. Verder blyk dit ook dat die populasies in die Noord-Kaap en Vrystaat primêr grasvreters is, en nie noembare hoeveelhede bolle en wortels vreet soos gevind is onder populasies in Zimbabwe nie.
Aan alle boere n vriendelike versoek om met my kontak te maak, of hul kommersiële of informele boere is wat met wild, vee, gewasse of ‘n kombinasie van grondgebruik boer. Ek benodig inligting oor, of vlakvarke opboere se plase voorkom en waar die plase gelee is, maw die GPS koördinate of die plaasnaam en nommer (soos dit op die oorspronkilke akte verskyn). My versoek is nie net gerig aan boere in die Noord-Kaap en Vrystaat nie, maar aan boere regoor die land. Boere word van volle vertroulikheid verseker en geen persoonlike inligting sal bekend gemaak word nie.
Monlee Swanepoel kan gekontak word by 0835615872 of stuur ‘n e-pos aan 15209792@sun.ac.za.






































Comments