Agri SA versoek omsigtige samestelling van die kabinet
“Die aanstelling van kabinetslede en die toekenning van portefeuljes is uiteraard die prerogatief van die president en Agri SA sal soos in die verlede poog om die beste moontlike samewerking met diegene te vestig”, sê Johannes Möller, president van Agri SA.
Volgens Möller is dit egter ’n realiteit dat die eise wat direk en indirek aan die landbousektor gestel word nie slegs uiteenlopend is nie maar ook omvangryk. “Dit sal besondere insig en veral landboukundigheid vereis van diegene wat in die toekoms tersaaklike beleid moet ontwikkel en tot uitvoer moet bring”, aldus Möller.
Möller het spesifiek verwys na die doelwitte van grondhervorming, werkskepping, landelike ontwikkeling, voedselsekuriteit, ondersteuning aan veral nuwe toetreders tot die landbou en die implementering van die Nasionale Ontwikkelingsplan wat in die verlede ten opsigte van beleidsbenaderings nie noodwendig ondersteunend tot mekaar gestaan het nie. “Selfs in praktyk was dit byvoorbeeld nie altyd duidelik of grondhervorming ’n doel in sigself was en/of die produktiewe benutting van grond en die ondersteuning van begunstigdes van grondhervorming werklik ook die noodsaaklike prominente fokus geniet het nie”, sê Möller.
“Ons vertrou dat die president in diepte aandag sal skenk aan die aanwending van die beste kundigheid vir die landbou as sodanig asook aan verwante terreine. Beleidsekerheid en gepaste ondersteuning is kernbelangrik om investering in die sektor te bevorder; daarsonder sal ander ekonomiese doelwitte ook nie tot wasdom kom nie”, sê Möller.
Persverklaring