top of page

Agri SA verlang toeganklikheid en samewerking

“Agri SA se fokus is primêr om die belang van die landbousektor en landelike gemeenskappe te bevorder en die organisasie verlang ’n soortgelyke ingesteldheid van politieke ampsbekleërs in die betrokke ministerie”, sê Johannes Möller, president van Agri SA.

Agri SA vertrou dat die werksverhouding tussen die ministerie van Landbou, Bosbou en Visserye en Agri SA, wat met verloop van tyd merkbaar verbeter het, onder leiding van Minister Zenzeni Zokwana voortgesit sal word.

Möller het Minister Zokwana en Adjunk-minister Celé geluk gewens met hulle onderskeie aanstellings. “Dit is ’n realiteit dat die Departement van Landbou, Bosbou en Visserye grootliks op tegniese aangeleenthede fokus waarmee die nuwe politieke ampsbekleërs moontlik nie ten volle vertroud is nie. Agri SA is egter bereid en beskikbaar om ondersteuning in dié verband te verleen”, sê Möller.

Hy het ook gewys op die noodsaak vir goeie interaksie met ander ministeries. “Vir ooglopende redes is aspekte soos landelike ontwikkeling, grondhervorming, water en handelsaangeleenthede ook vir die landbousektor van besondere belang. Ons sal soos in die verlede ook intens by hierdie ministeries en departemente betrokke moet wees. Die skepping van ’n ministerie vir Water en Sanitasie is van besondere belang, nie slegs vir die landbousektor nie, maar vir Suid-Afrika as ‘n geheel. ’n Fokus op waterkwaliteit is onontbeerlik aangesien die land geen goeie rekord in dié verband het nie”, sê Möller.

“Slegs deur ’n gesamentlike poging sal die rol van die landbou soos verwoord in die Nasionale Ontwikkelingsplan en spesifiek ten opsigte van voedselsekerheid, realiseer”, aldus Möller.

“Ek wil graag Minister Tina Joemat-Pettersson bedank vir haar bydrae tot die landbousektor oor die afgelope aantal jare en haar sterkte toewens met die nuwe portefeulje wat sy gaan beklee en wat in eie reg besondere uitdagings inhou. Onder haar leiding en dié van Adjunk-minister Pieter Mulder het onder andere die “Agricultural Policy Action Plan” sy beslag gekry; ‘n platform is geskep waarop haar opvolgers kan voortbou”, sê Möller.

Featured Posts
Recent Posts
  • Facebook Basic Square
  • Twitter Basic Square
  • Google+ Basic Square
Follow Us
Search By Tags
bottom of page