Wit saalrug Blesbokram haal R 4.2 miljoen!
Nuwe hoogtepunte vir die Suid-Afrikaanse wildbedryf is die naweek behaal met die wit saalrug Blesbokram van Dr. Donnie van Zyl wat vir R4.2 miljoen verkoop is.
Die WRSA veiling wat Saterdag 24 Mei op Bela-Bela gehou is, spog met ‘n stamele 9 SA rekordpryse van verskeie verkopers regoor die land.
Volgens Vleissentraal afslaer Mnr. Niel Swart is skaarswild asook gewone vlaktewild in die bomas en per katalogus aangebied, waarvan ‘n verskeidenheid genetiese materiaal die veiling heel aantreklik en gewild gemaak het onder die kopers.
“Die hoogtepunt van die veiling was ongetwyfeld die R4,2 miljoen wat die wit saalrug Blesbokram van Dr. Van Zyl van Amersfoort behaal het. Die koper van die baie skaars dier was bekende wildteler, mnr. Piet du Toit.”
Swart het ook genoem dat blesbok kleurvariasies vir verdere rekord pryse gesorg het. Dit het ingesluit ‘n wit saalrug Blesbok splitram vir R300 000, wit saalrug Blesbok split ooie vir R475 000, ‘n geel Blesbokram vir R375 000 en wit Blesbokooie dragtig van ’n geel Blesbokram vir R60 000.
’n Witrenostervers dragtig van ’n 33” bul van mnr. Wynand Botha is ook vir ’n nuwe rekord bedrag van R600 000 verkoop.
“Gewone vlaktewild se pryse was besonders goed,” sê Swart. “Rooiribokke van Dr.Pieter De Kock van Thabazimbi het’n nuwe rekord bedrag van R10 000 stuk behaal sowel as ’n Bosbokram van Forever Resorts in Warmbad wat vir R16 000 verkoop is.”
Verder is daar R360 000 vir ’n Koedoebul met uitsonderlike wye horings wat 61” meet behaal en Koedoekoeie dragtig van hierdie pragtige bul is vir R35 000 stuk verkoop.
“Soos met vorige wildveilings die seisoen was die vraag na Saalrug Rooibokke besonders goed. Dit word gestaaf deur ’n jong 6 maande oue ram van mnr. Johan van der Merwe wat verkoop het vir R1,8 miljoen. Saalrug Rooibok split ooie van mnr. Benau Viljoen het R375 000 stuk behaal en gewone Rooibok ooie dragtig van ’n Saalrug Rooibokram het vir R30 000 stuk verkoop – ‘n bykomende SA rekord.
Die veiling is aangebied deur Vleissentraal Bosveld.