Agri SA integrale deel van beplanning oor grondhervorming
“Agri SA bly aktief betrokke by die debat oor grondhervorming wat oor die afgelope aantal jare plaasgevind het,” sê Johannes Möller, president van Agri SA.
Agri SA se benadering was nog altyd om beredeneerd en ingelig te reageer op voorstelle en uitlatings wat in die openbare domein oor grondhervorming gemaak word. Daarom het die organisasie dit nodig gevind om ‘n werkswinkel te hou op 9 Junie 2014 waartydens buite-kundiges en regslui genooi was om Agri SA te help besin oor die hantering van sekere brandende kwessies op die terrein van grondhervorming, het Möller gesê.
Sake wat bespreek is, sluit in die heropening van die restitusie-eise proses, Minister Nkwinti se voorstelle oor die versterking van relatiewe besitreg van plaaswerkers, kommunale grondbesit, die implikasies van die uitspraak van die Konstitusionele Hof in die saak van Agri SA teen die Minister van Minerale en Energie, die Wetsontwerp op die Bevordering en Beskerming van Beleggings, die grondwetlike beskerming van eiendomsreg en die Nasionale Beplanningskommissie se voorstelle vir grondhervorming.
Oor die kwessie van die grondwetlike beskerming van eiendomsreg en die implikasies van die Konstitusionele Hof se uitspraak, het Agri SA al verskeie senior advokate, akademici en ander persone geraadpleeg. Daar bestaan uiteenlopende menings hieroor. “Agri SA sal voortgaan om deel te neem aan tersaaklike beleids- en wetgewende prosesse solank as wat die belang van die sektor en ons lede daardeur gedien word. Indien dit nodig blyk om die howe te nader, om die sektor, voedselsekerheid en die eiendomsreg van ons lede te beskerm, sal Agri SA, soos in die verlede, egter nie huiwer om dit te doen nie”, sê Möller.
Agri SA moedig die regering aan om grondhervormingsbeleid te baseer op planne wat realisties geïmplementeer kan word. Agri SA ondersteun volhoubare grondhervorming wat ekonomies lewensvatbaar is en produksie in stand hou. Agri SA besef ook dat daar ‘n behoefte is na inisiatiewe deur georganiseerde landbou wat kan help om armoede, hongersnood en werkloosheid in landelike gebiede te verlig en die sprekers wat tydens die werkswinkel opgetree het, het ook heelwat klem op hierdie aspek van sosiale verantwoordelikheid geplaas. Agri SA en sy lede sou graag ‘n bydrae in die verband lewer, maar kan nie die staat se verantwoordelikheid oorneem nie. Die koste van grondhervorming, wat ‘n kwessie van nasionale belang is, moet deur die fiskus gedra word en daar kan nie van individuele boere verwag word om hierdie las te dra nie. Die swak stand van die ekonomie bevestig die noodsaak vir herbesinning deur die staat op ‘n verskeidenheid van terreine waaronder investeringsvertroue en sekerheid van eiendomsreg nie die minste is nie. Dit sal Agri SA ook beweeg om by herhaling saam met die regering, werkbare metodes vir grondhervorming na te gaan”, aldus Möller.
Persverklaring