Vroue neem toekoms van platteland in eie hande
“Vandag is nog ‘n stap in die regte rigting” sê Hendrik Ackermann, voorsitter van Agri SA se Arbeid- en maatskaplike beleidskomitee. Hy het gepraat by die bekendstelling van ‘n opleidingsprojek vir vroue in die Keimoes omgewing. "Ons het ‘n lang pad gekom tot hier. Nou kan ons deur middel van vaardigheidsopleiding ‘n groot groep vroue in staat stel om sakegeleenthede verbandhoudend met die landbou en voedsel produksie te benut, kreatiwiteit te bevorder en ook om kinderontwikkeling aan te help" het hy gesê. “In wese gaan dit oor die ontsluiting van die inherente vaardighede van vroue en om dit aan te vul met dit wat nodig is om ‘n besigheid te bedryf” sê Ackerman.
Johannes Möller, president van Agri SA wat as gasspreker by die geleentheid opgetree het, het sy dank teenoor ‘n verskeidenheid van rolspelers betrokke by die projek, uitgespreek. "Ons bedank graag die AGRISETA vir befondsing en spesifiek ook diegene wat die projek tot wasdom gebring het. Ons plattelandse gemeenskappe is van direkte belang vir Agri SA; boere, plaaswerkers en vroue moet saamwerk om vir almal met menswaardigheid ‘n beter toekoms te verseker.
Landbou se vermoë om toenemend werksgeleenthede te skep, het drasties afgeneem. Dit het die gevolg dat baie gesinne dikwels met slegs een inkomste moet oorleef. Baie mense is werkloos in die landelike gebiede en benodig ‘n wyse om ‘n inkomste te genereer. "‘n Projek wat vroue kan bemagtig met vaardighede om ‘n besigheid te begin, al is dit op ‘n kleiner skaal, is derhalwe baie belangrik. Suksesvolle inisiatiewe vir inkomste generering kan uitbrei en help met werkskepping in die omgewing. Vroue kan weer op hulle beurt die kinders leer om finansieel onafhanklik te wees. Dis ‘n wen-wen situasie, en die projek lê my besonder na aan die hart” het Möller gesê.
Delene Möller, ‘n boervrou van die omgewing, het met eerbewys verwys na haar vroue kollegas wat regoor die land by ‘n verskeidenheid van ontwikkelingsprojekte betrokke is. "Ons probeer ook om ons deel by te dra tot die gemeenskap waarin ons onsself bevind. Uiteraard het ek ‘n passie vir veral die kinders en vroue in my omgewing. Indien my betrokkenheid by die projek ‘n positiewe verkil kan maak aan die lewenstog van mense in my omgewing sal dit werklik bevredigend wees. As ons dit suksesvol kan uitbrei na ander provinsies en gemeenskappe sal dit spreekwoordelik die kersie op die koek wees" het sy gesê.
Persverklaring