top of page

Begrotingspos toespraak dui op omvangryke uitdagings vir landbou

“Agri SA wens die Minister van Landbou, Bosbou en Visserye, mnr Zokwana geluk met sy eerste begrotingstoespraak vir 2014/2015, soos gelewer op 16 Julie 2014, veral met sy pragmatiese benadering tot uitdagings in die landboubedryf en die feit dat hy weggestuur het van politiekery”, sê Johannes Möller president van Agri SA.

Die minister het in sy toespraak spesifiek verwys na die vereiste bydrae van die landbousektor tot die verligting van armoede asook die voedselnood van ongeveer 12 miljoen lede van die bevolking. Volgens Möller is dit lofwaardige doelwitte maar die bereiking daarvan gaan veel meer vereis as wat deur slegs die landbou voortgebring kan word. "Indien beleidskoördinering tussen staatsdepartemente en ministeries nie verbeter nie, gaan daar weinig tereg kom van besproeiingsuitbreiding, werkskepping en die ontwikkeling van grond wat tans hoofsaaklik in kommunale verband aangewend word. Laasgenoemde terreine en tersaaklike wetgewing behels uiteraard die betrokkenheid van ander staatsdepartemente wat bepalend is vir die bevordering van die landbou se bydrae tot die regering se doelwitte", aldus Möller.

Die minister het verwys na die belang van die Nasionale Ontwikkelingsplan vir toekomstige landbou-ontwikkeling met inbegrip van verskeie ander ontwikkelingsgerigte dokumente wat op die landbou- en nywerheidsektor fokus. Die minister het veral klem gelê op die ontwikkeling van kleinskaalse boerderye. “Dit is egter noodsaaklik dat ons binne hierdie konteks die belang van alle boerdery-groottes moet uitspel, veral teen die agtergrond van toenemende verstedeliking en die gepaardgaande voedselbehoeftes waaraan die formele sektor moet voldoen", sê Möller.

"Soos tydens sy toespraak aangedui, het Agri SA reeds met die minister en adjunk-minister Bheki Cele oor dié en ander uitdagings gesprek gevoer. Ek glo dat ons ‘n basis vir samewerking gevestig het. Hoewel daar talle uitdagings is, is ek van mening dat die minister in die kort periode van sy huidige amp reeds deeglik daarvan kennis geneem het", sê Möller.

Persverklaring

Featured Posts
Recent Posts
  • Facebook Basic Square
  • Twitter Basic Square
  • Google+ Basic Square
Follow Us
Search By Tags
bottom of page