Effektiewe beheer van onkruid op grensdrade en wildwering
As mens oor hierdie onderwerp wil praat, moet jy eers die term “onkruid” behoorlik omskryf. Vir die doel van die artikel kan alle plante wat groei waar mens hulle nie wil hê nie, as onkruid beskou word. Dit sluit enige plantegroei in wat heinings en wildwering kan beskadig, soos deur brand of meganiese skade.
Grondeienaars sou vermoedelik nie droom om met ‘n bakkie van R400 000 rond te ry alvorens dit behoorlik verseker is nie en tog is daar heelwat wat ‘n kans vat met oneffektiewe of selfs geen onkruidbeheer op wildwering wat veel waardevoller is as ‘n plaasvoertuig. Om nie eers te praat van die waarde van die vee of wild agter daardie heining nie! Die koste van onkruidbeheer is werklik ‘n fraksie van die waarde van die belegging in infrastruktuur en lewende hawe.