top of page

Gronddebat gaan mank aan kundigheid en realisme

“Soos wat ook tydens die debatvoering tydens die begrotingsrede oor landelike ontwikkeling en grondhervorming hierdie week die geval was, bly die aanklag dat die huidige groep blanke boere grond gesteel het lewendig in verskeie kringe waaronder die EFF” sê Johannes Möller, President van Agri SA.

Volgens Möller word die beredenering in die verband op so ‘n lae vlak van ingeligtheid gedryf dat gegronde argumente tot die teendeel kwalik dié spesifieke teiken gaan bereik. “Hoekom bestaan daar ‘n skuldlasverhouding van nagenoeg 60 persent op grond en vaste verbeterings as dit gesteel is? Beteken die feit dat plaaseenhede afgeneem het van 118 000 in 1950 tot die huidige aantal van nagenoeg 40 000 dat boere dit ook van mekaar “gesteel” het? Dit is algemene kennis dat ongeveer 5% van plaasgrond jaarliks verhandel. Dit beteken in effek dat die totale oppervlak van alle plaasgrond in Suid-Afrika oor die afgelope twintig jaar verhandel het. So in die ”era van demokrasie” was die grondmark dinamies op basis van verhandeling en nie gekenmerk deur sogenaamde diefstal nie” aldus Möller.

Volgens Möller word die beleidsomgewing oor grondhervorming tans gekenmerk deur botsende uitsprake van politieke leiers, ooglopend swak koördinasie van beleidstandpunte en duidelik swak kommunikasie oor die aangeleentheid. “Dit is onmoontlik om te midde van restitusie en die verwante grondeise-prosesse wat vir ‘n verdere vyf jaar sal voortduur sinvol te vorder met grondhervorming, aandeelhouerskemas, die verbandhoudende voorstelle in die Nasionale Ontwikkelingsplan en Swart Ekonomiese Bemagtiging in die algemeen” sê Möller.

Landbouers is nou sat daarvoor dat die blaam vir Suid-Afrika se mislukte grondhervormingsproses telkens na die produsente as synde planloos geskuif word, terwyl die departement beide in die vermelde begroting en weens herhaling van praktyke wat tot dusver klaaglik misluk het, nie met werkbare planne of implementeringstrategieë vorendag kom nie. Desnieteenstaande werk Agri SA reeds saam met die Nasionale Beplanningskommissie ten opsigte van grondhervormingsmodelle.

Volgens Möller is dit nie slegs die landbou, plaasgrond en boere wat ter sprake is nie maar die aanvaarbaarheid van Suid-Afrika as ‘n bestemming vir belegging. Hy verwys spesifiek na die swaard van afskalings in die kredietgradering wat voortdurend oor Suid-Afrika se kop hang.

“Namens Agri SA bevestig ek kommersiële landbou se verbintenis om van grondhervorming en transformasie van die sektor ‘n sukses te maak en herhaal die aanbod om saam met die regering en ander belanghebbendes prakties daaraan uitvoering te gee. Ons aanvaar egter nie beskuldigings van planloosheid binne ‘n omgewing wat planne onmoontlik maak nie” sê Möller.

Persverklaring

Featured Posts
Recent Posts
  • Facebook Basic Square
  • Twitter Basic Square
  • Google+ Basic Square
Follow Us
Search By Tags
bottom of page