top of page

Minister poog om onwerkbare beleid te vestig

Tydens die Grondberaad wat van 4 – 6 September 2014 in Boksburg plaasgevind het, het die Minister van Landelike Ontwikkeling en Grondhervorming, mnr Gugile Nkwinti die kontroversiële beleid in terme waarvan beperkings geplaas kan word op die omvang van plaasgrond wat persone mag besit, probeer afdwing, het Johannes Möller president van Agri SA gesê.

“Die minister kon nie inkoop op hierdie Groenskrif-voorstel kry gedurende die konsultasie-proses oor die Groenskrif wat byna twee jaar lank geduur het nie, maar het dit gedurende die doodsnikke van die beraad in Boksburg as 'n resolusie probeer vestig. Die minister het ter elfder ure, ‘n voorstel ter tafel gelê, wat nie bespreek is deur die kommissies wat hiertydens ook oor verskillende aspekte van besitreg-hervorming beraadslaag het nie. Dit behels dat klein boere nie meer as 4 000 hektaar sal mag besit nie, medium boere tussen 4000 ha en 8000 ha en grootskaalse boere ‘n maksimum van 12 000 hektaar. Hy het toe geëis dat die aanwesiges daar en dan ‘n standpunt oor die voorstel moes inneem. Daar was duidelik geen konsensus oor die syfers wat die minister op die tafel geplaas het nie”, het Möller gesê.

“Agri SA het deurgaans tydens die Groenskrif-proses die standpunt gehandhaaf dat grondplafonne onwerkbaar is. Dit word geïllustreer deur internasionale ervaring. Daar was ook verskeie kundiges geraadpleeg hieroor tydens die Groenskrif-proses en daar is telkens daarop gewys dat die implementering van sulke plafonne baie duur sal wees, moeilik administreerbaar sal wees, dat verskillende tipes boerderye heeltemal verskillende behoeftes het in terme van hoeveelheid grond benodig en dat dit voedselsekerheid in gedrang kan bring. Die minister het landbouers tydens die beraad daarvan beskuldig dat hy hulle meer as voldoende tyd gegee het om met ekonomiese modelle vir verskillende gebiede en bedrywe vorendag te kom waarop die plafonne gebaseer kan word, maar dat hulle versuim het om dit te doen. Agri SA is egter vir baie goeie redes in beginsel gekant teen sodanige plafonne en kon daarom nie deelneem aan sodanige oefening nie”, het Möller gesê.

“Dit is tyd dat die regering ophou om duur, onwerkbare planne uit te dink en miljoene te spandeer op berade waar geen ware konsultasie plaasvind nie”, het Möller gesê. Agri SA sal ook nie beskuldigings aanvaar dat daar nie betyds met ekonomiese argumente vorendag gekom word om die minister se politieke sienings te ondersteun nie. Die minister moet besef dat aspekte soos grondplafonne kwalik deur enige ekonomiese berekeninge ondersteun kan word.

Möller sê dat Agri SA wel intern aandag skenk aan grondhervormingsmodelle wat werkbaar kan wees en sal dit ook by die organisasie se kongres wat in Oktober plaasvind, hanteer. "Hier is egter ook in landsbelang veel meer ter sprake as gewoon politieke ongedurigheid en ons sal gevolglik die aangeleentheid die aandag gee wat dit verdien ook binne die tyd wat dit verdien", sê Möller.

Persverklaring

Featured Posts
Recent Posts
  • Facebook Basic Square
  • Twitter Basic Square
  • Google+ Basic Square
Follow Us
Search By Tags
bottom of page