Veiligheidshulp aan boerderygemeenskappe
Die Agri Securitas Trustfonds het weer finansiële steun bewillig aan verskeie boerderygemeenskappe om hulle in staat te stel om hulle veiligheid te verbeter. Misdadigheid in landelike gebiede noodsaak dié gemeenskappe om al meer te doen om hulle boerderye teen kriminaliteit te beskerm. Die geld sal aangewend word vir die oprigting van kamerastelsels om nommerplaat identifikasie te bewerkstelling in die Smithfield- en Graaff Reinette omgewings, die oprigting van ‘n herhaler in die Reitz-distrik asook die aanwending van radio’s om teenmisdaadaskies te help koördineer in die Bothaville-distrik.
“Met konstruktiewe optrede bly die Trustfonds verbind om ‘n veiliger landelike-omgewing daar te stel sodat landbouproduksie kan voortgaan en werksgeleenthede ontwikkel kan word. Hoewel die misdaadprobleem kompleks en moeilik is om op te los vertrou ons dat die geldelike hulp sal bydra om landbou as ‘n bate te help beskerm”, sê Japie Grobler, voorsitter van die Agri Securitas Trustfonds.
Die kamerastelsels sal aangewend word om toegangspaaie te monitor en weens die afskrikwaarde daarvan by te dra tot die beveiliging van landbouers en plaaswerkers. Die monitering van voertuigbeweging sal bydra om die stryd teen veediefstal te verskerp en misdadigers af te skrik om die gebied binne te kom. Inligting oor verdagte voertuie en persone wat deur die stelsel verkry word sal die gemeenskap in staat stel om binne bestaande landelike beveiligingsprosedures optrede te beplan.
Onvoldoende kommunikasie veroorsaak tekortkominge in die voorkoming van misdaad en die koördinering van landelike beveilingsoptrede. Die voorsiening van ‘n herhaler en handradio’s sal die probleem oplos en lei tot meer doeltreffende noodkommunikasie en die bespoediging van beveilingsoptredes.
Die beveiliging van landbouers en plaaswerkers is die belangrikste aspek van die Trustfonds en al sy aksies is daarop ingestel om voorkomende hulp aan boerderygemeenskappe beskikbaar te stel om hulle kwesbaarheid teen misdaad te help verminder. “Landbouers moet daagliks verskeie uitdagings in hulle boerderye die hoof bied en die Trustfonds sal voortgaan om, saam met sy borge, in verdienstelike gevalle hulp te verleen om in van die uitdagings verligting te bied” sê Grobler.
Die Trustfonds gee erkenning aan sy sakevennote; Vodacom, Nissan SA, Sanlam, CrisisOnCall en sy borge; Afgri, GWK, Senwes, NWK en OFM wat op verskeie vlakke van die Trustfonds ‘n bydrae lewer.
Persverklaring
Navrae
Japie Grobler, Voorsitter Agri Securitas Trustfonds, 082 825 8018
Kobus Visser, Agri SA Direkteur: Korporatiewe Skakeling, 012 6433400 of 082 388 0010
![Landelike Veiligheid 2.jpg](https://static.wixstatic.com/media/96f241_46b01a1f5c0e47a7aae28084eebc1b79.jpg/v1/fill/w_723,h_511,al_c,q_85,enc_auto/96f241_46b01a1f5c0e47a7aae28084eebc1b79.jpg)