top of page

Landelike veiligheid: ‘n Kommerwekkende begin vir 2015

Die onlangse vlaag plaasmoorde is ‘n skokkende en kommerwekkende begin vir 2015

AgriSA logo.png

met onmeetbare hartseer en ontsteltenis vir talle gesinne, families en gemeenskappe. Agri SA betuig sy meegevoel met naasbestaandes van dié slagoffers. Die wye voorkoms van geweldsmisdade waaronder veral die landbou lei, spreek van ‘n gemeenskap waarin daar ernstige tekortkominge met die uitleef van waardes is, soos respek vir andere se lewens en eiendom en die siening klaarblyklik by kriminele bestaan dat misdaad ongestraf kan bly. Agri SA glo dat die groot oorwig van Suid-Afrikaners dié situasie verwerplik vind en graag omstandighede wil ervaar waar veiligheid en sekuriteit nie daagliks ‘n oorheersende bekommernis is nie.

Die aard van die onlangse misdade toon aan dat dit nie met enkelvoudige oplossings reggestel kan word nie. Daarom is beide kort- en langtermyn optrede nodig om dié tendens te stuit en na ‘n aanvaarbare vlak af te bestuur.

Agri SA bedank die polisie wat in die meeste gevalle reeds die beweerde misdadigers van die onlangse voorvalle aangekeer het. Tog bevestig huidige omstandighede die noodsaak vir ‘n effektiewe polisiemag wat die landelike beveiligingstrategie met die nodige erns implementeer. Dit sluit in die uitrol van die hersiene reservistestelsel en gereelde plaaspatrollies as deel van sigbare polisiëring. Nouer samewerking tussen die polisie en boerderygemeenskappe en onderlinge kommunikasie kan ook bydra om huidige misdaadvlakke onder bedwang te bring.

Plase en kleinhoewes is om verskeie redes sagte teikens vir misdadigers, meer so wanneer dit deur bejaardes bewoon word. Daarom is groter paraatheid op huishoudelike vlak en betrokkenheid by gemeenskapsbeveilingstelsels soos plaaswagte ‘n vertrekpunt om gemeenskappe te help beveilig. Dit sluit in die toepas van die plaastoegangsprotokol wat Agri SA met die owerheid onderhandel het; ‘n versigtiger interaksie met vreemdelinge wat die plaas besoek óf met werkers waarmee die boer onbekend is; die monitering van die beweging van vreemdelinge in ‘n gebied met behulp van ‘n valhekstel; en die gebruik van sekuriteitstoerusting.

Terwyl die ruimte vir misdaad deur bovermelde bekamp moet word is die langertermyn uitdaging om ’n waardesisteem waarmee die meeste Suid-Afrikaners hulle vereenselwig, verder uit te bou. Dit is ‘n omvattende taak wat op die skouers van ouers, gemeenskapsleiers, die onderwys, godsdiensgroepe, die sakegemeenskap, media, wetstoepassers en politici lê. Daar moet met voorbeeld gelei word en verg samewerking oor verskeie fronte. Verder moet ekonomiese geleenthede sodanig ontsluit word dat elke persoon wat wil werk, die geleentheid het om op ‘n eerbare wyse in sy lewensbehoeftes te voorsien.

- Persverklaring

Featured Posts
Recent Posts
  • Facebook Basic Square
  • Twitter Basic Square
  • Google+ Basic Square
Follow Us
Search By Tags
bottom of page