Grondplafonne ‘n politieke dagdroom
“Die ANC se standpunt dat die besit van plaasgrond tot twee plase per eienaar asook ‘n maksimum van 12 000 hektaar beperk moet word om grondverdeling te bespoedig, is vir die landbousektor totaal onaanvaarbaar en kan die ekonomie en verbruikers tot groot nadeel strek. Dié verklaring gister deur die sekretaris-generaal van die ANC, mnr Gwede Mantashe na afloop van die party se lekgotla, bring ook die geloofwaardigheid van die huidige raadplegingsproses tussen die Minister van Landelike Ontwikkeling en Grondsake, Mnr Nkwinti, en rolspelers in die bedryf oor ‘n pakket van praktiese maatreëls om van grondhervorming ‘n sukses te maak, in die gedrang,” sê Johannes Möller, president van Agri SA.
In sy reaksie op dié aankondiging verwys Möller na verskeie gebeure en ooreengekome
werkswyses wat betrekking het op die gronddebat en nie met hierdie beleidsuitspraak versoenbaar is nie:
Die Nasionale Ontwikkelingsplan maak geen voorsiening vir die beperking op grondbesit deur regspersone ten einde grond beskikbaar te maak vir herverdeling nie. Dié plan het wel ‘n voorstel om herverdeling per distrik te bevorder wat die afgelope jaar intensief in landbougeledere gedebatteer is en op ‘n proefbasis toepassing vind. Verskeie ander modelle word ook reeds toegepas wat aan die vereistes van ekonomiese volhoubaarheid en standhoudende bemagtiging voldoen.
In die NAREG-konsultasieproses, wat op die Groenskrif oor Grondhervorming gevolg het, het die Departement van Landelike Ontwikkeling en Grondhervorming ‘n onafhanklike studie gelas na die lewensvatbaarheid en implikasies van grondplafonne. Dié studie het aangetoon dat so ‘n maatreël indruis teen markkragte en boere die geleentheid sal ontneem om skaalgrootte-voordele te benut wat op sy beurt noodsaaklik is om winsgewend te bly en voedsel so goedkoop moontlik te produseer. ‘n Beperking op plaasgroottes en verdere direkte ingrepe op eienaarskap sal waarskynlik lei tot deurlopende hoër vlakke van beskerming en ondersteuning aan die landbou, swakker uitvoerprestasie, groter afhanklikheid van invoere en duurder voedsel.
Agri SA se voorstel, soos goedgekeur tydens sy 2014-kongres, was dat boere wat reeds skaalvoordele geniet en ‘n groot bydrae tot voedselproduksie lewer, hul grondbesit slegs moet kan uitbrei indien dit toereikende deelname van ‘n bemagtingsvennoot insluit. Dié voorstel berus op die toepassing van omsetnorme, eerder as dié van fisiese plaasgroottes en is tans die onderwerp van verdere evaluering en bespreking.
Dis bykans onmoontlik om die ekonomiese waarde en produksie van ‘n plaas slegs aan sy fisiese grootte te koppel. Geografie, klimaat, die intensiwiteit van die boerderystelsel, infrastruktuur, afstande van verskaffers of markte is van die faktore wat hierop inspeel. In praktyk kan daar plase van 50 hektaar wees wat baie groter en meer stabiele besighede is as ‘n ekstensiewe veeplaas van 20 000 hektaar. Beperkings op plaasgroottes sal dus ‘n naïewe teruggryp na ‘n benadering van sentrale beplanning wees wat ‘n komplekse bedryf soos die landbou sal muilband.
Mnr Mantashe het in sy verklaring toegegee dat die grondwetlikheid van dié ANC-voorstel nog uitgeklaar moet word. Dit is ‘n vraag wat eerder vroeër as later beantwoord moet word omdat ‘n afkeuring daarvan onnodige verdere spekulasie daaromtrent sal uitskakel.
Minister Nkwinti het by verskeie geleenthede rolspelers in die bedryf uitgenooi om voor einde Februarie 2015 voorstelle in te dien waarmee volhoubare grondhervorming versnel kan word. Agri SA het reeds laasjaar intensief hieraan aandag gegee en sy kongresbesluite daaromtrent in Oktober 2014 is deur Minister Nkwinti verwelkom. Agri SA konsulteer ook hieromtrent met ander landbou-organisasies binne die Agricultural Sector Unity Forum (ASUF) wat saamwerk om ‘n gesamentlike standpunt binne die gestelde tydsraamwerk aan die minister te voorsien. Agri SA dra ook hierdie insette in by die Interdepartementele Taakspan wat minister Nkwinti daargestel het om die kabinet oor aspekte rakende die implementering van die Nasionale Ontwikkelingsplan te adviseer.
Die verband tussen hierdie beleidsuitspraak deur Mnr Mantashe namens die ANC en die bovermelde prosesse, verg nou opklaring.
“Klaarblyklik is die 50/50-herverdelingsvoorstel wat verlede jaar kontroversie ontlok het ook weer besig om as beleidsraamwerk te herleef”, aldus Möller. Dat versnelde grondhervorming nou op ‘n onrealistiese basis voorgestoot word om ander falings soos die energiekwessie en dié van verskeie staatsinstellings te verdoesel is natuurlik ‘n sterk moontlikheid”, sê Möller. Hierdie denke deur die ANC kan hoogstens polities dienstig wees, maar ekonomies en sosio-ekonomies is dit onsinnig. Uiteraard sal Agri SA, totdat die regering anders oordeel, betrokke bly by bestaande strukture waarheen ons uitgenooi is vir insette en waarin ons tot hiertoe in goeder trou na sinvolle oplossings vir grondherverdeling soek.
- Persverklaring