top of page

WRSA aan alle Buffeltelers - Genetiese diversiteit van die Kaapse Buffel in Suid Afrika

In Suid-Afrika is daar tot dusver ‘n aantal navorsingsprojekte gedoen op die genetiese diversiteit van vrylopende Kaapse Buffel (Syncerus caffer caffer) populasies in publieke parke (Greyling, 2007; Greyling et al., 2008; Grobler & Van der Bank, 1996; O‟Ryan et al., 1998; Smitz et al., 2013; Smitz et al., 2014; Van Hooft et al., 2014; Van Hooft et al., 2007; Van Hooft et al., 2000 & 2003). Hierdie navorsing het getoon dat die genetiese verskille tussen die Suidelike- en Oos-Afrika buffel populasies relatief klein is. Verder blyk dit of daar hoë vlakke van genetiese diversiteit onder buffels in die Kruger Nasionale Park bestaan, maar dat aansienlik laer vlakke voorkom in die Hluhluwe Umfolozi-, Addo- en St. Lucia Park [gemiddelde heterosigositeit, d.w.s die persentasie van individue wat twee verskillende allele (variante van ‘n geen) per merker: 60-75% van dit in Kruger] (O’Ryan et al., 1998). Negatiewe effekte van inteling depressie word nog nie op hierdie stadium verwag nie, alhoewel onlangse navorsing getoon het dat allele wat nadelig is vir liggaamskondisie ‘n hoë frekwensie in die Kruger populasie het (maar nie direk verwant is aan inteling nie) (Van Hooft et al., 2014). Tot dusver is nog geen navorsing gedoen om die genetiese diversiteit in buffelkuddes op privaat wildplase te ondersoek nie, waar talle wildboere hulle basis diere vanaf beide oos en suidelike buffel kuddes verkry het.

Ten spyte van die gebrek aan navorsing, word daar in sommige kringe sterk opinies

WRSA NAVORSINGSPROJEK.jpg

uitgespreek oor die sogenaamde gebrek aan genetiese diversiteit en die negatiewe effekte daarvan op buffelkuddes in privaat besit. Die privaat wildboere glo aan die ander kant, dat terwyl daar groot potensiaal bestaan om die gesamentlike genetiese diversiteit te verbeter, die diversiteit in buffelkuddes in privaat besit gelykstaande of selfs beter is as die kuddes in publieke parke weens die wye bron van oorsprong en verantwoordelike genetiese bestuurspraktyke.

Dr Peter Oberem, WRSA President, het die eerste Simposium oor Afrika Buffels bygewoon wat deur die “Antelope Interest Group” van die IUCN in Parys, Frankryk aangebied is gedurende 2014. Uit hierdie vergadering het dit duidelik geword dat daar baie data oor buffel genetika beskikbaar is in Suid-Afrika en dat die kundigheid wêreldwyd beskikbaar is om:

  • Die verwantskappe en vlakke van genetiese variasie van buffels in Publieke Parke van Suid-Afrika te vergelyk met buffels op wildplase in privaat besit.

  • Bestuurspraktyke te formuleer en aanbevelings te maak om die genetiese diversiteit in buffelkuddes te verbeter.

Na afloop van hierdie vergadering het Dr Oberem 'n navorsingsgroep gestig om die genetiese variasie van wild in SA te bestudeer. ‘n Aantal plaaslike en buitelandse navorsers het op 22 Desember 2014 by die Afrivet Kantore met Dr Oberem en die nuwe WRSA Direkteur van Navorsing, Dr Roan Louw, vergader. Die onderwerp was Buffel genetika, genetiese diversiteit binne SA kuddes in privaat besit, vlakke van inteling asook strategieë en beleide om inteling te beperk. Die vergadering is bygewoon deur Dr Munro Marx (Unistel Mediese Laboratoriums), Dr Cindy Harper (Veeartsenykundige Genetika-Laboratorium), Dr Pim van Hooft (Wageningen Landbou Universiteit, Nederland), Dr Paul Lubout (WS2) en Dr Ben Greyling (Landbou Navorsingsraad). Dr Desiré Dalton (Nasionale Dieretuin) en Prof. Rasmus Heller (Universiteit van Coppenhagen, Denmark) kon nie die vergadering bywoon nie. Tydens die vergadering het die laboratoriums aangedui dat daar gesamentlik meer as 4000 buffelmonsters deur die Veeartsenykundige Genetika-Laboratorium (VGL), die Landbou Navorsingsraad (LNR) en Unistel geanaliseer is gedurende die afgelope paar jaar. Aangesien al die laboratorium dieselfde merkers gebruik het as die wat deur Dr Ben Greyling van die LNR ontwikkel is, kan die bestaande data gebruik word om die genetiese variasie in buffels op privaat wildplase in Suid Afrika te bestudeer. Daar is besluit dat die buffel sal dien as ‘n proefprojek en indien suksesvol kan die projek uitgebrei word na ander wildspesies wat in groot getalle op privaat wildplase besit is. Vir die WRSA om hierdie projek te loots moet wildboere wat DNS profiele van buffels getoets het, toestemming aan WRSA (Toestemmingsbrief aangeheg) gee om die DNS profiel resultate (wat die boer besit) by VGL, LNR en Unistel te gebruik vir die navorsingsprojek.

Meer spesifiek, is die hoof doelwitte van die projek as volg:

Analiseer en vergelyk die vlakke van genetiese diversiteit in buffelkuddes op wildplase met die in publieke parke van Suid-Afrika en ander Kaapse buffel populasies in oostelike en suidelike Afrika. Die volgende hipoteses sal getoets word:

  • Die genetiese diversiteit van alle buffels in privaat besit is gesamentlik ten minste so goed soos die populasies in die publieke parke.

  • Translokasie van diere tussen wildplase is voldoende om die vlakke van genetiese diversiteit per wildplaas naby die gemiddelde diversiteitsvlak te handhaaf.

  • ‘n Merkwaardige persentasie van die genetiese agtergrond van baie buffelkuddes in privaat besit is van oostelike Afrika oorsprong.

  • Formuleer en beveel bestuurspraktyke asook telingspraktyke aan wat die genetiese diversiteit van buffelkuddes sal verbeter.

Let wel dat alle informasie van individuele diere (anoniem) en kuddes streng vertroulik gehou sal word en slegs geanaliseerde data sonder spesifieke verwysing na diere en/of kuddes sal bekend gemaak word aan die publiek in wetenskaplike en ander publikasies. Die navorsingsgroep beplan om voorlopige resultate en „n voorgestelde teelbeleid bekend te stel by die WRSA Konferensie in Maart 2015 vir bespreking.

Buffeltelers wat aan hierdie projek deelneem sal ‘n individuele, konfidensiële verslag ontvang van die genetiese variasie in hul kuddes en advies oor hoe om die genetiese variasie te verbeter en/of te behou. Die WRSA navorsingsgroep sal buffelboere op versoek via die WRSA Direkteur van Navorsing bystaan.

Deur hierdie navorsing te doen hoop ons om vir eens en vir altyd te wys dat die vrese wat deur sommige individue uitgespreek word oor die huidige rigting wat deur sommige wildtelers gevolg word om teelpraktyke te intensiveer ongegrond is en dat enige moontlike negatiewe aspekte van die intensiewe stelsels bestuur word. WRSA beplan om hierdie kennis wat die projek sal oplewer te gebruik om bestuursbeleide te formuleer vir buffelteling wat sal dien as „n gids vir sy lede om die genetiese diversiteit in hul kuddes te behou en/of te verbreed. Ons beplan ook om die navorsing uit te brei in die toekoms na ander spesies, insluitende Swartwitpense en Bastergemsbokke.

Ten slotte wil WRSA graag hê dat alle buffeltelers moet deelneem aan hierdie projek omdat dit ‘n groot stap is in die validering van die genetiese variasie van buffels in privaat besit in suid afrika.

Kontak asseblief die wrsa kantoor (amélia: tel 012 335 6994; epos info@wrsa.co.za) voor 20 Februarie 2015 en bevestig u deelname. Vind ook aangeheg die toestemmingsbrief wat u moet voltooi en terugstuur (geteken) aan die kantoor sodat u data aangevra kan word vanaf die laboratorium om deel te vorm van die projek.

Wildbedryf SA Korrespondensie

Featured Posts
Recent Posts
  • Facebook Basic Square
  • Twitter Basic Square
  • Google+ Basic Square
Follow Us
Search By Tags
bottom of page