Gesonde advies rakende die geel blesbokram vir R400k verkoop
- adriaansnyma2
- Feb 20, 2015
- 3 min read
Na aanleiding van die geel blesbokram wat onlangs teen R400 000 gekoop is, en sedertdien van kleur verander het en nou soos ‘n gewone blesbok lyk, het die Bestuurende Direkteur van Gamevest Game Breeders, Phillip Mostert sy mening oor die saak gelig met 'n baie praktiese voorstel.
Lees gerus hier onder...
Geagte Mnr Kruger en Mnr Jan Bezuidenhout (Landbouweekblad)
Ek vind die spesifieke verskynsel van kleur verandering baie interessant en ek glo nie die stellings van sekere mense, dat regstappe teen ‘n medeboer en verkoper noodwendig die regte advies is nie, tensy daar sekerheid is dat die verkoper inderdaad bedrieglik was.
My opinie is dat jy inderdaad betrokke is by ‘n baie interessante verskynsel is, en dat dit inderdaad ‘n verskynsel is wat die bedryf baie kan bevoordeel indien mens wetenskaplik kan bepaal wat werklik die verandering teweeg gebring het.
Die voorstelle van verskeie geleerdes dat U inderdaad hierdie bok saam met hulle vir ‘n volle seisoen moet monitor is seer sekerlik die regte advies. Die advies kan moontlik lei tot groot voordeel van die bedryf indien hier unieke nuwe feite deur navorsing en waarneming te vore kan kom.
Dit los egter nie U probleem op dat U ‘n klomp geld betaal het vir ‘n bok wat nou heelwaarskynlik U vir ‘n volle teelseisoen uit die mark uit gaan hou finansieel nie. My objektiewe advies in die verband is dat U en die verkoper hoort hande te vat as vennote in ‘n unieke navorsingsprojek om te bepaal wat hierdie verskynsel veroorsaak het?
Ek neem aan dat julle beide by wyse van bloed of DNA toetse 100% sekerheid het dat dit dieselfde dier is?
Indien wel, is ‘n samewerkingsooreenkoms tussen U en die verkoper seer seker tog die

wesenlike oplossing omrede dit tot julle en tot die bedryf in sy geheel se belang is dat julle wel wetenskaplik agter die kap van die byl kom? Vir enige verkoper in die bedryf ongeag die agent, behoort sy reputasie in die bedryf en toekomstige verkope van sy diere net so belangrik te wees.
In die lig dink ek dat enige beskuldigings (indien daar geen ongeruimthede was nie) tussen enige van die partye behoort begrawe te word, ten einde by die antwoord van hierdie raaisel uit te kom. Dit hoort ook nie in die lig van goeie boerdery beginsels in so ‘n geval net U eie uitdaging te wees nie, maar net soveel die verantwoordelikheid van ‘n etiese verkoper te wees.
Derhalwe dink ek, julle behoort saam hande te vat en ‘n oplossing en strategie te vind hoe julle saam by die antwoorde uit kan kom, en dat julle intussen op een of ander ooreenkoms uitkom sodat jy nie alleen ‘n suiwer verlies in die gesig staar nie. Vir enige bonafide boer is sy reputasie as teler uiters belangrik en glo ek dat in die gees van goeie gesindheid tussen kopers en verkopers, daar altyd oplossings gevind kan word tot almal se voordeel. Veral in die lig van ‘n unieke voorval soos die waar daar nie op die oog af ‘n antwoord is nie, en waar dit klink (sonder dat ek natuurlik al die feite het nie) niemand opsetlik die ander wou skade doen nie.
Doen moeite as boere en kom by die feite en waarheid uit wat hierdie verandering veroorsaak het en bly uit die howe uit – dis tot julle eie voordeel en die bedryf kan by julle albei baie baat indien julle kan uitvind wat werklik gebeur het.
Mnr Kruger, indien U sonder twyfel kan bewys dat dit dieselfde bok in beide foto’s is, en die verkoper steeds sy rug op jou draai en nie sy hulp en samewerking tot ‘n oplossing wil gee nie, dan bied ek U gerus ons hulp aan.
Gamevest besit verskeie Geel Blesbok teel projekte onder andere van laasjaar se WRSA Rekords – Roland (Geelblesbok ram) en die 2014 SA Rekord Wit Saalrug Blesbok – TOPDECK van R7,8m.
Die bedryf is uiters gesond en daar is baie etiese telers wat graag mede-telers sal help, veral waar unieke verskynsels in die natuur antwoorde nodig het.
Ek hoor graag van julle en glo julle sal regkom. Indien nie, staan my uitnodiging.
Comments