Agri SA en AfriForum teken samewerkingsooreenkoms ter bevordering van gemeenskapsveiligheid
Die burgerregte-organisasie AfriForum en die landbou-organisasie Agri SA het vandag in Pretoria ʼn samewerkingsooreenkoms onderteken ter bevordering van gemeenskapsveiligheidsinisiatiewe in landelike- en dorpsgebiede, sonder om mekaar se onderskeie werkterreine te betree.
![Afri Agri.jpg](https://static.wixstatic.com/media/96f241_7eab5ff023984459a5343e091386906a.jpg/v1/fill/w_360,h_240,al_c,q_80,enc_auto/96f241_7eab5ff023984459a5343e091386906a.jpg)
Volgens Kallie Kriel, Uitvoerende Hoof van AfriForum is die ooreenkoms ʼn groot stap om veiligheid te help verseker in gemeenskappe en gebiede wat ly onder die misdaadkrisis in die land. “Hierdie ooreenkoms tussen AfriForum en Agri SA vloei voort uit die feit dat organisasies in die burgerlike samelewing ʼn verpligting teenoor die publiek het om seker te maak dat gemeenskapsveiligheidsaksies so doeltreffend moontlik aangepak moet word,” het Kriel gesê. AfriForum is ook volgens Kriel in gesprek met ander rolspelers wat betrokke is by gemeenskapsveiligheid, met die oog op soortgelyke ooreenkomste.
Kobus Breytenbach, voorsitter van Agri SA se Landelike Veiligheidskomitee sê “dat met die ooreenkoms daar gepoog word om verwarring veral by landbougemeenskappe uit te skakel oor die hantering van die veiligheidskwessie. Agri SA en sy provinsiale organisasies het die verantwoordelikheid om landelike veiligheid tot op boereverenigingvlak te hanteer en binne die Prioriteitskomiteestelsel met die polisie uit te klaar. Hy doen ‘n beroep op boerdery gemeenskappe om in noue samewerking met hulle onderskeie plaaslike boerevereniging strukture die veiligheidskwessie te hanteer”.
Die ooreenkoms behels onder meer dat waar die onderskeie partye oor gemeenskapsveiligheidstrukture beskik wat aangrensend tot mekaar geleë is, kommunikasiekanale gevestig moet word om misdaad op ‘n gekoördineerde wyse te bekamp. Om duplisering te voorkom, onderneem die partye om nie kompeterende strukture te vestig in gebiede waar een van die partye reeds ʼn goed funksionerende gemeenskapsveiligheidstruktuur het nie. In die praktyk beteken dit dat AfriForum hom sal toespits op dorpsgebiede en landelike gebiede waar daar nie funksionerende gemeenskapsveiligheidstrukture bestaan nie en Agri SA op die landelike gebied.
Die partye sal ook daarna streef om saam met ander rolspelers op ʼn ad hoc- basis forums in gemeenskappe tot stand te bring waar daar spesifieke probleme ontstaan wat ʼn wye aantal rolspelers raak en ʼn gesamentlike strategie nodig is om die probleem op te los. Beide partye gee ook in die ooreenkoms erkenning aan mekaar se unieke rolle en bestaansreg.
Die ooreenkoms behels ook dat Agri SA en AfriForum op nasionale- sowel as provinsiale vlak, ten minste twee keer per jaar sal vergader om samewerking oor sake van gemeenskaplike belang te bespreek.
Persverklaring