Die platanna perspektief
Geskryf deur Reon van Tonder
Eendag sit daar 'n beesboer en 'n wildboer in 'n stroompie. So sien die wildboer 'n plat-anna in die water en hy sê vir die beesboer: " Ek sal jou 'n R1,000 gee as jy daai padda insluk. Beesboer dink toe - dis min moeite vir R1000 en sluk toe die paddatjie in. Hy voel toe aardig en sê toe vir Wildboer: " As jy ook 'n plat anna insluk gee ek vir jou ook R1,000. So gesê, so gemaak. Na so rukkie sê Beesboer vir Wildboer: " Hier sit ons nou - elkeen met 'n padda in die maag en nie 1 is beter af as wat ons netnou was nie.. ". Wildboer sê toe vir Beesboer: " jy moenie so daarna kyk nie, ons het nounet R2,000 se omset tussen ons 2 gehad!"
Nou voel altwee sommer beter oor die saak. Die volgende week is hulle weer in die stroompie. Die keer bied hulle mekaar egter R100,000 elk aan vir die sluk van so 'n plat anna elk. En die omset skiet op na R200,000 vir die week!! Die derde naweek beloof vir groooot omset toe hul mekaar elkeen R1miljoen aanbied vir hierdie slukkerasie. Skielik begin die bure kennis neem van hierdie geweldige omsette wat so gegenereer word.
Mielieboer en Skaapboer wil nou ook deel word en voor jy kan sê: " Gesonde Plat-Anna" trek die omset by R4miljoen vir een naweek se platannas!!! Die 4 besef toe baie gou: ons sal hierdie platannas uit die rivier moet kry en elkeen 'n teel troppie aanhou. So gesê, so gemaak! Wildboer kry toe 'n paar platannas met stewige webbe tussen die tone en Beesboer kry toe platannas met lang toon naels en Skaapboer kry toe die twee neon groen plat annas, terwyl Mielieboer die plat annas kry met die donker groen pigment.
So verkoop hulle naweek na naweek die paddas onder mekaar en kort voor lank is hulle omsette sommer R10miljoen per naweek! Nou is dit 'n uitsonderlike bedryf met baie groei potensiaal want elke Jan Rap en sy maat wil nou ook van hierdie duur Plat annas hê!
In tussen is arme Visterman erg verward, want hy kan nou nie eers meer 'n ou platannatjie uit die rivier gaan haal vir aas, soos in die verlede nie. Sy visvang dae is vir eers getel!
En so dames en here bou jy die mooiste grootste Egiptiese piramiede skema in 'n moderne wereld waar die prys die waarde van 'n item met miljoene rande klop - gebaseer op die webbe, lengte van toon naels en die snaaksheid van die kleur wat die padda boere uit hul kruisteling kan opdis!